Protea Atlas Logo
  Home
  Mission
  Overview of Project
  Project Staff
  Sponsors
  Achievements
  Checking, Illustrations
  Upcoming Activities
  Id and  Species Lists
  Protea Information
  Protea Gallery
  Growing Proteas
  Interim Dist. Maps
  Publications
  Afrikaanse Inligting

  SANBI

Proteas van die Somerreënvalstreek


Die Protea Atlas Projek beoog om, deur ons nasionale blom, die belangstelling in ons flora, asook die benutting en bewaring daarvan, te bevorder.

Hierdie gids tot die Protea-familie van die somerreënvalstreek van Suid-Afrika is met dié doel opgestel.

Baie mense raak moedeloos omdat daar so baie verskillende soorte plante is en dit so moeilik is om hulle te leer ken. Hierdie gids word toegespits op daardie kenmerke wat die verskillende spesies onderskei en maak dit pret om plante te leer ken, al moet 'n mens soms 'n bietjie moeite doen! Ons hoop dit sal u ook in staat stel om 'n oordeel te vorm oor die geldigheid en nut van sommige spesieverdelings. Die leek het nog altyd (en sal ook in die toekoms) nuwe spesies en interessante variante ontdek. Baie van hulle is interessante ekologiese verskynsels of is geskik bevind vir aanplanting.

Die beskrywings en illustrasies in hierdie gids is, met toestemming, saamgevat uit John Rourke se "Proteas of Southern Africa", Tony Rebelo se "Field Guide to Proteas of Southern Africa" en uit inligting voorsien deur leke, veral deur die Protea Atlas Projek. U is welkom om op die gids kommentaar te lewer of verbeterings voor te stel deur te skryf aan die koördinator van die Protea Atlas Projek. Dank ook aan Ann Cornelissen, Pat Holmes, Nick Cole en Craig Hilton-Taylor vir hulle data en kommentaar.

Elke spesiebeskrywing word toegelig met 'n lyntekening wat sommige kenmerke toon, asook met 'n verspreidingskaart. Hierdie kaarte toon die data aan as 25 km x 25 km blokke (wat saamval met die 1:50 000 SA kaartvelle) en amateurs se vindplekke as kolle. U weet waarskynlik van groeiplekke wat nog nie op die kaarte verskyn nie. U kan dus deur ons daarvan in kennis te stel 'n bydrae maak tot die wetenskap sowel as tot bewaring. Die effektiefste manier is om vandag by die Protea Atlas Projek aan te sluit!

Tony Rebelo, 1995


Inhoud

1. Vinnige sleutel tot die Protea-familie

2. Suikerbosse (Genus Protea)

3. Grasveldsuikerbosse

4. Bergsuikerbosse

5. Savanna-suikerbosse

6. Lepelblaarsuikerbosse

7. Gebaarde Suikerbosse

8. Witsuikerbosse

9. Boekenhoute (Genus Faurea)

10. Speldekussings (Genus Leucospermum)

11. Tolbosse (Genus Leucadendron)


'n Vinnige Sleutel Tot Die Afdleings van Die Genus Protea

Grasveldsuikerbosse:
Komvormige blomhoofde (baie "primitief").
Haarlose of byna haarlose skutblare (alhoewel sommige vorms van P. caffra harig is).
'n Moeilike groep om te definieer: jong stamme is haarloos; blomhoofde dikwels minder as 50 mm lank (behalwe P. caffra), of het 'n lang geskubde steel; enkelblomme korter as, of steek uit bo die skutblare; die blomdekblare is haarloos of harig, soms met 'n klos van hare aan die punt; style is gewoonlik baie gekrom; blare haarloos.

Bergsuikerbosse:
Het van die grootste blomhoofde (meer as 70 mm lank).
Blare is groot - 100-200 mm lank - en harig of haarloos. Die skutblare is harig of haarloos, en is gewoonlik effens langer as die enkelblomme en gaan nie ná die blomtyd toe om die jong vrugte te beskerm nie. Die blomdekblare is langer as 45 mm. Die groot, koepelvormige blombasis is ook 'n baie "primitiewe" kenmerk. Dikwels boomagtig.

Savanna-suikerbosse:
Jong stamme is harig.
Blomhoofde is medium groot (omtrent 50 mm dia.). Die skutblare is gewoonlik bedek met syerige hare. Die blomdekblare is harig, 20-50 mm lank. Style is meer as 30 mm lank, gewoonlik reguit of baie effens gekrom, en so lank of langer as die skutblare. Vorm dikwels trosse blomhoofde aan die punte van takke.

Silwerblaarsuikerbos - P. roupelliae:
Lang, lepelvormige binneste skutblare, met 'n effens harige rand, net so lank of langer as die enkelblomme. Die blomdekblare en die binneste skutblare val plat ná blomtyd en vorm onnette puntige saadkoppe.

Baardsuikerbos - P. lorifolia:
Opvallende fraiing van lang, digte hare (die baard) aan die ingekromde skutblare. Binneste skutblare effens lepelvormig. Die blomdekblaar het drie harige angels wat nie in die die blomhoof platval nie maar regop bly; hul verberg die style ná die enkelblomme oop is, selfs in ou saadkoppe.

Witsuikerbos - P. subvestita:
Haarlose style langer as die binneste skutblare, met 'n kort fraiing van syerige hare. Die blomdekblare is slanker aan die basis en krul op in die basis van die oop blomhoof, weg van die style, sodat die blomhoof netjies lyk. Die lippe van die blomdekblare is drie-puntig en het hare slegs aan die punt.


Suikerbosse Protea

Die genus Protea word gekenmerk deur 'n blomhoof met baie enkelblomme op 'n plat basis omring deur skutblare. Oppervlakkig beskou lyk die blomhoof soos 'n "tipiese blom", met skutblare in die plek van blomblare. Beter beskou, word dit egter duidelik dat elke enkelblom bestaan uit vier blomdekblare (anders as tipiese blomme met blom- en kelkblare). Hiervan is drie saamgesmelt en een vry. Nog 'n tipiese eienskap van suikerbosse (soos alle lede van die protea-familie) is dat die punt van die stigma verleng is om 'n "stuifmeelbieder" te vorm, waarop die helmknoppe die stuifmeel neerlê en wat dan soos 'n verfkwas die stuifmeel oordra op enige besoeker aan die blomhoof. Die stigma is reg aan die punt van die stuifmeelbieder en gaan eers oop lank nadat die stuifmeel vrygestel is. Die harige vrugte is ook kenmerkend.


Grasveldsuikerbosse

Omdat hulle so varieer is die Grasveldsuikerbosse 'n moeilike groep om te omskryf, binne sowel as buite die landsgrense van Suid-Afrika. Binne 'n klein gebied kan net soveel variasie in 'n spesie voorkom as oor sy hele verspeidingsgebied. Soos so dikwels in die taksonomie, word dit al moeiliker om spesies te herken, hoe meer eksemplare versamel word. So het John Beard in 1958 vier spesies (peglerae, natalensis, baurii, flanaganii) saamgevat tot P. multibracteata, twee (bolusii, stipitata) tot P. rhodantha en een verander, (dodii) tot P. simplex. Met meer data tot sy beskikking het John Rourke in 1982 multibracteata en rhodantha ook onder P. caffra, flanaganii en transvaalensis onder P. simplex, en inyangensis onder P. dracomontana gekombineer. Met nog meer data het Chisumpa & Brummit in 1987 nog meer spesies (as subspesies) saamgesmelt, insluitend: P. gazensis (Zimb.-Mosamb.), P. kilimandscharica (Kenia-Tanz.), P. mafingensis (Nyika), P. nyasae (Mulanje).

In Suid-Afrika word die volgende spesies nou almal beskou as deel van P. caffra subsp. caffra:

caffra (Hoëveldsuikerbos, Highveld Sugarbush):
Dit kom voor op die sentrale Hoëveld en op die platorand van KwaZulu-Natal.

multibracteata (Natalsuikerbos, Natal Sugarbush):
smal blare, kleiner en baie meer skutblare. Dit kom voor op die kusvlakte onder die platorand.

rhodantha (Misgordelsuikerbos, Mistbelt Sugarbush): breë sagte blare, groter blomhoof en langer enkelblomme. Dit kom voor op die platorand van Oos- en Noord-Transvaal.

rhodantha var. falcata (Sekelblaarsuikerbos, Sickle-leaf Sugarbush): het effens meer sekelvormige blare. Dit kom voor op die platorand van Swaziland en by Barberton.

Die toestand is dus baie eenvoudiger as 20 jaar gelede, maar dit is nog verwarrend omdat daar verskille in grootte, vorm, kleur en blomtyd plaaslik voorkom. Om die spesies te onderskei, is dit nodig om noukeurig op te let hoe hulle stamme groei. Hulle hergroei almal vanuit permanente ondergrondse wortelstokke as jong plante.

Verdere volksname vir P. caffra sluit in: Transvaalse Suikerbos, Gewone Suikerbos, Suikerbos, Cup-and-saucer Sugarbush, Transvaal Sugarbush, Isidlungu (Sw), Mogalagala (NS), Segwapi (NS), Sekila (SS), isAdlunge (X), isiQalaba (Z), isiQalaba-sentaba (Z), isiQwane (X), uHlinkihlane (Z).


Protea caffra subsp. caffra - Gewone Suikerbos - Common Sugarbush

Kenmerke: Die Gewone Suikerbos word herken aan die digte hare op die skutblare en blomdekblare, wat gou afval terwyl die blomme oopgaan. 'n Uiters veranderlike spesie, en baie moeilik om te definieer.

Groeivorm: Veranderlik van regop struike of klein bome, 3-8 m hoog, met 'n enkele hoofstam (ou plante) tot regop, veelstammige, vertakte struike 1-3 m hoog, met 'n wortelstok (jong of dikwels-gebrande plante). Takke 4-12 mm dia., haarloos.

Blare: Veranderlik, omgekeerd lansetvormig-lynvormig tot ellipties tot sekelvormig, 70-250 mm lank, 13-30 mm breed, haarloos, bleek groen tot silwer.

Blomhoof: Bolvormig tot eiervormig, 40-80 mm dia., enkel of in trosse van 3 of 4. Skutblare pienk tot karmynrooi of roomkleur, haarloos of met digte, roesbruin of silweragtige, syerige hare wat gou afval tydens blomtyd; binneste skutblare langwerpig tot langwerpig-spatelvormig. Blomtyd veranderlik, wissel volgens lokaliteit, gewoonlik van Oktober tot Januarie, meestal in Desember.

Enkelblom: Blomdekblare 45-60 mm lank, buis 10-14 mm lank, met pienk-bruin tot wit hare (selfs op buis) wat gou afval. Styl 40-60 mm lank.

Verspreiding: Hoëveld, Lesotho, KwaZulu-Natal, Oos- Transvaal & Swazilandse platorand; kusvlaktes van noordelike KwaZulu-Natal tot Oos-Kaap. 0-2100 m.

Nota: Hierdie spesie verskyn op die ou Suid-Afrikaanse 3d- (tiekie) en 6d- (sikspens) munte. Moontlik die algemeenste suikerbos en protea in Suid-Afrika.


Protea simplex - Slank Suikerbos - Dwarf Grassveld Sugarbush

Sinonieme: Protea dodii, P. flanaganii,
P. transvaalensis;
Mountain Rose Sugarbush.

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "eenvoudig", die sinonieme is na W Dodd, HG Flannagan (1861-1919), en "van die Transvaal". Die volksname verwys na die groeivorm.

Kenmerke: Hergroei ná brande vanuit 'n wortelstok, met slank, regop stamme. Skutblare haarloos.

Groeivorm: 'n Veelstammige dwergstruik met 'n wortelstok. Die stammetjies regop, onvertak en slank, 2-5 mm dia., haarloos.

Blomhoof: Enkel, omgekeerd keëlvormig-bolvormig, 30-60 mm dia. Skutblare haarloos, groen tot roomkleur tot pienk tot karmynrooi.
Blom veral ná brande, November tot Desember.

Enkelblom: Blomdekblare 20-40 mm lank, buis 4-8 mm lank, met wit tot roesbruin hare. Styl 20-40 mm lank, reguit of effens gekrom.

Blare: Langwerpig tot omgekeerd-lansetvormig, 60-120 mm lank, 7-30 mm breed, haarloos.

Verspreiding: Oos-Transvaal, Swaziland, KwaZulu-Natal tot Oos-Kaap. 0-2000 m.

Notas: In gebiede met ryp val die blare binne twee jaar af, die plante lyk dan sterwend tensy hulle weer brand. Hibriede met P. caffra veroorsaak baie verwarring.


Protea parvula - Drakensbergsuikerbos - Drakensberg Sugarbush

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "baie klein". Die Engelse volksnaaam verwys na die groeivorm.

Kenmerke: 'n Laaggroeiende, rankerige struik, hergroei ná brande vanuit wortelstok, met baie minvertakte, rankende stamme, tot 1 m lank. Stammetjies haarloos, 2-4 mm dia. Die blare groei vertikaal op uit die horisontale stamme. Skutblare haarloos.

Groeivorm: 'n Laaggroeiende, rankerige struik, 8-16 cm hoog, met 'n wortelstok met baie, minvertakte ranke. Ranke haarloos, 2-4 mm dia.

Blomhoof: bolvormig, plat wanneer oop, 35-60 mm dia., groen tot roomkleur tot pienk. Skutblare haarloos.
Blomtyd Desember tot Maart.

Enkelblom: Blomdekblare 25-35 mm lank, buis 5-7 mm lank, wit, haarloos of met roesbruin hare. Styl reguit of effens gekrom, 30-35 mm lank, wit.

Blare: Blare staan regop op 'n horisontale stam, lynvormig tot omgekeerd-lansetvormig, 60-140 mm lank, 5-20 mm breed.

Verspreiding: Platorand van Swaziland, Oos-Transvaal en KwaZulu-Natal, van Mariepskop tot Vryheid. 1300-2150 m.

Notas: In die verlede het sommige herbariums party eksemplare as P. simplex geïdentifiseer. Gaan asb. u ou rekords na.


Protea dracomontana - Drakensbergsuikerbos - Drakensberg Sugarbush

Sinonieme: Alpine Sugarbush, Drakensberg Dwarf Sugarbush.

Betekenis van name: Al die name verwys na die habitat - hoog in die Drakensberg.

Kenmerke: 'n Laaggroeiende, stewige struik, met minvertakte, regop stamme, hergroei ná brande vanuit 'n wortelstok. Stewige stamme. Skutblare is haarloos. Blomdekbuis 10 mm lank, haarloos onder.

Groeivorm: 'n laaggroeiende struik, 0,5-1,5 m hoog, tot 1 m dia. Stamme regop, stewig, minvertak, vanuit 'n wortelstok, 5-10 mm dia., haarloos.

Blomhoof: Koppievormig, 40-60 mm dia., enkel of in trosse van 3 of 4, steel kort of afwesig.
Skutblare haarloos, roomkleur tot karmynrooi, rand harig.
Blomtyd Januarie tot Maart.

Enkelblom: Blomdekblare 40-45 mm lank, buis 10 mm lank, haarloos onder, met klossies met wit tot pienk hare aan punt. Styl 45-60 mm lank, wit.

Blare: Langwerpig tot omgekeerd-lansetvormig, 80-140 mm lank, 25-45 mm breed, leeragtig, donkergroen-wasagtig.

Verspreiding: Oos-Kaap, Lesotho, KwaZulu-Natal en Vrystaatse platorand; Zimbabwe by Mt Inyangani. 1600-2600 m. Gewoonlik in assosiasie met basalt.

Nota: Hibriede met P. caffra lyk soos hierdie spesie maar het vertakte stamme.


Protea nubigena - Wolksuikerbos - Cloud Sugarbush

Betekenis van name: Die spesienaam en volksname beteken "gebore uit die wolke".

Kenmerke: 'n Regop struik, met baie, veelvertakte stamme vanuit 'n wortelstok. Blare klein. Blomhoof bolvormig. Skutblare haarloos. Style 35-40 mm lank.

Groeivorm: 'n Regop struik, 0,5-0,7 m hoog tot 0,5 m dia., met talle stamme vanuit 'n wortelstok. Stammetjies veelvertak, 2-5 mm dia., blaarletsels opvallend.

Blomhoof: Bolvormig, 40-50 mm dia. Skutblare haarloos, groen tot pienk, rand bruin. Blomtyd Maart tot April.

Enkelblom: Blomdekblare 30-35 mm lank, buis 10 mm lank, met roesbruin hare. Styl 35-40 mm lank, ingekrom, wit.

Blare: Omgekeerd lansetvormig-ellipties, klein, 40-60 mm lank, 7-13 mm breed, haarloos, blougroen-wasagtig.

Verspreiding: KwaZulu-Natalse Drakensberg by Policeman's Helmet. Kranse op 2300 m.

Bewaringstatus: Uiters gelokaliseerd; net een bekende lokaliteit. Bedreig deur uitsterwing.

Nota: Mag algemeen wees teen kranse in Drakensberg.


Bergsuikerbosse

Protea rubropilosa - Transvaalse Bergsuikerbos - Transvaal Sugarbush

Sinonieme: Transvaal Mountain Sugarbush, Velvet Sugarbush.

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "met kort rooi hare". Die volksname verwys na die lokaliteit en habitat.

Kenmerke: 'n Groot geronde struik of boom. Skutblare buite bedek met digte, fluweelagtige bruin, hare. Blomdekblare wolharig aan punte.

Groeivorm: 'n Verwronge, spreidende boom 1-8 m hoog. Takke stewig, 10-15 mm dia., haarloos.

Blomhoof: Enkel, 70-90 mm dia., gaan pieringvormig oop. Skutblare buite bedek met dik, fluweelagtige, bruin hare, binne rooi; buitenste skutblare eiervormig, skerp gepunt; binneste skutblare langwerpig met geronde punt, 50 mm lank, 10 mm breed. Blomtyd van September tot Desember, meestal Oktober.

Enkelblom: Blomdekblare wolharig-wit aan punt, 50-80 mm lank, buis 18 mm lank, haarloos onder. Styl 60-70 mm lank, effens gekrom, rooi.

Blare: Omgekeerd lansetvormig-ellipties, 120-220 mm lank, 30-65 mm breed, leeragtig, donkergroen.

Verspreiding: Platorand van Noord- en Oos-Transvaal van Wolksberg tot Lydenberg. 1400-2300 m.


Protea comptonii - Barbertonse Bergsuikerbos - Saddleback Sugarbush

Sinonieme: Compton se suikerbos, Barberton Mountain Sugarbush.

Betekenis van name: Die spesienaam ter ere van Prof. RH Compton (1886-1979). Die volksname verwys na die lokaliteit en habitat.

Kenmerke: 'n Hoë, geronde, yl boom. Bas grys, kurkagtig, tot 20 mm dik. Blare groot, langwerpig, skitterend groen. Skutblare roomkleur, haarloos. Style 65-80 mm lank.

Groeivorm: 'n Boom 4-8 m hoog, met 'n geronde, yl kruin. Bas grys, kurkagtig, tot 20 mm dik. Stamme stewig, 10-20 mm dia., haarloos, blare saamgepak in jaargroei.

Blomhoof: 80-120 mm dia., steelloos. Skutblare roomkleur, haarloos; binnestes gaan oop tot 'n plat piering. Blomtyd Mei tot September, meestal Mei tot Julie.

Enkelblom: Blomdekblare 65-70 mm lank, buis 15 mm lank, wit-wolharig aan punt. Styl 65-80 mm lank, ingekrom, wit.

Blare: Omgekeerd lansetvormig-ellipties, 120-250 mm lank, 25-50 mm breed, haarloos, diep groen, dik, leeragtig, hoofaar en rand rooi.

Verspreiding: Oos-Transvaal, Swaziland en KwaZulu-Natalse platorand van Saddleback tot Vryheid. 1200-1600 m.

Bewaringstatus: Bedreig deur uitsterwing.


Protea curvata - Barbertonse Laeveldsuikerbos - Barberton Sugarbush

Sinonieme: Laeveldsuikerbos, Barberton Lowveld Sugarbush.

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na die gekromde blare, en die volksname na die lokaliteit en habitat.

Kenmerke: Blare smal langwerpig-lansetvormig, sekelvormig, steel afgespits. Skutblare met diep, rooi-swart, syerige tot fluweelagtige hare aan die rand, haarloos onder. Saadkoppe val af as die vrugte ryp is.

Groeivorm: 'n Klein, regop boom tot 8 m hoog met 'n yl kruin, jong plante met 'n wortelstok. Stamme regop, 5-10 mm dia., haarloos, blare hoofsaaklik op nuwe groei.

Blomhoof: Bolvormig, 50-70 mm dia. Skutblare met diep rooi-swart, syerige tot fluweelagtige hare aan die rand, haarloos onder. Blomtyd Junie tot Oktober, meestal Junie tot Julie.

Enkelblom: Blomdekblare 50-60 mm lank, buis 15 mm lank, met kort, gryserige hare. Styl 60-65 mm lank, pienk.

Blare: Smal langwerpig-lansetvormig, sekelvormig, 110-200 mm lank, 8-16 mm breed, steel afgespits, leeragtig, haarloos, blougroen-wasagtig.

Verspreiding: Claremont Vale aan die Oos-Transvaalse platorand naby Barberton. 850 m. Op talkagtige skist.

Bewaringstatus: Bedreig deur uitsterwing.

Nota: Soms verwar met P. caffra (veral eertydse rhodantha var. falcata), maar het kenmerke tipies van Bergsuikerbosse.


Protea laetans - Blydesuikerbos - Blyde Sugarbush

Betekenis van name: Die spesienaam is Latyn vir "bly", na die lokaliteit, Blyderivier, waarna die volksnaam ook verwys.

Kenmerke: 'n Slank, yl boom, met 2-6 stamme vanuit 'n wortelstok. Skutblare binne karmynrooi, buite bedek met digte, silwer of bruin-rooi, syerige hare. Blomdekblare gepunt met geelbruin syerige hare.

Groeivorm: 'n Slank boom tot 5 m hoog, met 2-6 stamme vanuit 'n wortelstok, soms 'n enkele hoofstam. Stamme 7-10 mm dia., trosse blare aan laaste twee jaar se groei.

Blomhoof: Koppievormig, 80-100 mm dia.; steel 10-25 mm lank. Skutblare diep karmynrooi binne, buite digte silwer of bruin-rooi, syerige hare. Blomtyd Maart tot September, meestal April tot Mei.

Enkelblom: Blomdekblare met geelbruin, syerige hare aan punt 50-60 mm lank, buis 15-20 mm lank, haarloos onder. Styl 50-55 mm lank, effens ingekrom, rooi.

Blare: Smal omgekeerd-lansetvormig tot lansetvormig, soms sekelvormig, 100-200 mm lank, 15-35 mm breed, steel afgespits, leeragtig, haarloos, blougroen-wasagtig, rand geel.

Verspreiding: Oos-Transvaalse platorand by Blyderivier. 1000-1400 m.

Bewaringstatus: Bedreig deur uitsterwing.

Nota: Beard beskou P. laetans as 'n subspesie van P. gaguedi, maar ons klassifiseer dit anders, omdat beide spesies saam voorkom.


Savanna-Suikerbosse

Protea gaguedi - Groot Suikerbos - African Sugarbush

Sinonieme: Afrika-suikerbos, Witsuikerbos; Protea abyssinica, P chrysolepis, P. busseana, P. trigona, P. manikensis, P. janssensii, P. ramosa; Deciduous Sugarbush, Sugar Protea, White Sugarbush, Isiqalaba (N), Mubonda (cS).

Betekenis van name: Die spesienaam is die lokale Tigrana-naam vir hierdie suikerbos. Die volksname verwys na die spesie se wye verspreiding in Afrika en sy groot vorm.

Kenmerke: Blare met yl, syerige hare, haarloos en blougroen-wasagtig in volwasse stadium, ellipties tot langwerpig tot sekelvormig. Skutblare met silweragtige, syerige hare, soms met 'n roesbruin rand. Blomdekblare 35-50 mm lank.

Groeivorm: 'n Regop tot verwronge struik, 2-3 m hoog (soms 8 m), veelvertak, 2-3 m dia. Stammetjies 5-8 mm dia., aanvanklik met digte hare, maar later haarloos. Dikwels bladwisselend, veral ná ryp.

Blomhoof: Plat-bolvormig, 50-70 mm dia., enkel maar soms in trosse; effe soet geur. Skutblare met silweragtige, syerige hare, soms met 'n roesbruin rand; buitenstes eiervormig tot driehoekig, dig oormekaar; binnestes langwerpig, punt ingekrom, 30-35 mm lank, 5-10 mm breed, wyd oop. Blomtyd Augustus tot Februarie, meestal Desember tot Februarie.

Enkelblom: Blomdekblare 35-50 mm lank, buis 10-15 mm lank, silweragtig, dig wolharig. Styl 40-60 mm lank, reguit, wit, twee punte.

Blare: Ellipties tot langwerpig tot sekelvormig met yl, syerige hare, haarloos en blougroen-wasagtig in volwasse stadium, 12-30 mm breed, 80-170 mm lank.

Verspreiding: Die naas-wydverspreidste suikerbos. Kom voor op die Hoëveld, in Swaziland, KwaZulu-Natal, Zimbabwe, Botswana, Namibië, en noordwaarts tot in Ethiopië. 600-2500 m.

Notas: Die wortels kan glo as seksstimulant gebruik word - dit is waarskynlik om hierdie rede in Namibië uitgeroei.


Protea welwitschii - Troshofiesuikerbos - Dwarf Savannah Sugarbush

Sinonieme: Protea hirta, P. leucoblepharis, P. ferruginea, P. uhehensis, P. myrsinifolia, P. goetzeana, P. eickii, P. kirkii, P. brevifolia, P. meliodora, P. congensis, P. obtusifolia, P. abyssinica; Kersfeessuikerbos, Kleinsuikerbos, Suikerbos, Vaalsuikerbos, Welwitsch se suikerbos, Witsuikerbos; Clusterhead Sugarbush, Honeyscented Sugarbush, Russet Sugarbush, White Sugarbush; isiQalaba (Z)

Betekenis van name: Die spesie is genoem na FMJ Welwitsch (1806-1872) wat in Angola en Namibië versamel het. Die volksname verwys na die habitat en groeivorms. Die veelvoud sinonieme dui die groot veranderlikheid en wye verspreiding van hierdie spesie aan.

Kenmerke: Stamme met digte, lang, wit of bruin hare. Blare met digte, wit of bruin hare, blougroen-wasagtig in volwasse stadium behalwe aan steel. Blomhoof in trosse van 3-4; sterk, soet heuninggeur. Skutblare met wit of bruin, syerige hare. Blomdekblare 20-50 mm lank.

Groeivorm: 'n Veelstammige struik 0,5-1,5 m hoog vanuit 'n wortelstok, soms tot 4 m hoog met 'n enkele stam. Stammetjies met digte, lang, wit of bruin hare, haarloos in volwasse stadium, 5-8 mm dia., met blare nie in trosse aan punt, soms bladwisselend.

Blomhoof: In trosse van 3-4, gaan pieringvormig oop, 30-60 mm dia.; steel tot 10 mm lank; sterk, sieklik-soet, heuningagtige geur. Skutblare yl tot dig bedek met wit tot bruin syerige hare.  Blomtyd Desember tot Mei, meestal Januarie tot Februarie.

Enkelblom: Blomdekblare 20-50 mm lank, buis 5-15 mm lank, met wit, roomkleur of bruin hare. Styl 30-50 mm lank, ingekrom.

Blare: Ellipties tot breed omgekeerd-lansetvormig, met digte, wit of bruin hare, haarloos in volwasse stadium behalwe aan steel, 50-120 mm lank, 15-60 mm breed.

Verspreiding: Hoëveld, KwaZulu-Natal, Zimbabwe en Mosambiek; noordwaarts tot in Uganda. 300 - 2000 m.

Notas: Uiters veranderlik deur die verspreidingsgebied. Alhoewel baie variëteite in die verlede erken is, het hulle verval. Bergvorms het 'n groot enkele blomhoof, en breë blare, vorms laer af het smal blare en 'n kleiner blomhoof, dikwels in trosse van tot ses.


Gebaarde Suikerbosse

Protea lorifolia - Riemblaarsuikerbos - Strap-leaf Sugarbush

Sinonieme: Eselsore, Protea macrophylla, Ass's Ears.

Betekenis van name: Al die name verwys na die blare: lorum = lint, macro = groot.

Kenmerke: Blomhoof langwerpig of kelkvormig (nie gerond). Skutblare soms met baard, binnestes lepelvormig. Die lintvormige blaar is ook kenmerkend.

Groeivorm: 'n Kompakte, geronde struik, 1-3 (soms 5) m hoog.

Blomhoof: Omgekeerd keëlvormig-langwerpig, 70-130 mm lank, 25-50 mm dia. Skutblare met syerige hare, punte met 'n wit baard, rand met digte hare, roomkleur tot pienk tot beige; buitenste skutblare regop; binnestes langwerpig, 60-100 mm lank, 3-10 mm breed, punt gerond tot spatelvormig.  Blomtyd April tot Oktober, meestal April tot Junie.

Enkelblom: Blomdekblare 65-90 mm lank, buis 12 mm lank, angels met digte, kort, gemengde wit en pers-swart hare. Styl 55-65 mm lank, reguit, onderste deel harig.

Blare: Breed omgekeerd-lansetvormig, blougroen-wasagtig, rand geel tot rooi, verdik en horingagtig, 120-250 mm lank, 20-50 mm breed, punt gerond, haarloos in volwasse stadium, leeragtig; blaarsteel 10-15 mm lank, gevorm deur die afspitsende blaar.

Verspreiding: Op Bosberg by Somerset-Oos, en weswaarts tot in die Koue Bokkeveld naby Ceres, Wes-Kaap. 450-1400 m.


Lepelblaarsuikerbosse

Protea roupelliae subsp. roupelliae - Silwerblaarsuikerbos - Silver Sugarbush

Sinonieme: Protea lanuginosa, incana, transvaalensis, rudatisii; Silwersuikerbos, Suikerbos, Transvaalse Waboom, Waboom; Drakensberg Sugarbush, Roupell's Sugarbush, Silverleaf Sugarbush, Sugarbush, Transvaal Silverleaf Sugarbush; Isidlunge (Sw), isiQualaba, Seqalaba (SS), uQhambathi (Z).

Betekenis van name: Die spesie is genoem na AE Roupell (1817-1914), 'n botaniese kunstenaar. Die volksname verwys na die blare en lokaliteit.

Kenmerke: Hierdie is die enigste lepelskutblaar-suikerbos in die streek. Die blaarvorm is uniek.

Groeivorm: 'n Klein, regop boom, 3-8 m hoog, met 'n geronde kruin. Stamme haarloos in volwasse stadium.

Blomhoof: Omgekeerd keëlvormig-langwerpig tot bokaalvormig, 80-120 mm lank, 80-100 mm dia. Skutblare pienk of rooierig tot bruin, met yl tot digte, silwer, syerige hare; binneste skutblare lepel- of tongvormig, punt skerp, so lank of langer as die enkelblomme, 50-100 mm lank, 6-10 mm breed. Blomtyd deur die jaar, meestal Februarie - April.

Enkelblom: Blomdekblare 60-80 mm lank, buis 15 mm lank, punte met skurwe angels en kort, roomkleur, bruin, rooi of pers-swart hare. Styl ingekrom, 50-65 mm lank, onder donsig.

Blare: Lynvormig-lansetvormig tot eiervormig, 80-170 mm lank, 15-50 mm breed, haarloos of met wollerig-syerige hare, punt gerond tot skerp; byna steelloos.

Verspreiding: Hoëveld, Oos- en Noord-Transvaalse platorand, Swaziland, KwaZulu-Natal, Lesotho en Oos-Kaap. 0-2400 m.


Protea roupelliae subsp. hamiltonii - Ranksilwersuikerbos - Dwarf Silver Sugarbush

Sinonieme: Rambling Silver Sugarbush.

Betekenis van name: Ontdek deur die dokter PD Hamilton in 1957. Die volksname verwys na die groeivorm.

Kenmerke: 'n Lepelskutblaar-suikerbos, met 'n laaggroeiende, rankerige groeivorm, in matte tot 1 m in deursnee.

Groeivorm: 'n laaggroeiende, rankerige struikie, in matte tot 1 m deursnee, 0,3 m hoog. Stamme haarloos in volwasse stadium.

Blomhoof: Omgekeerd keëlvormig-langwerpig tot bokaalvormig, 80-120 mm lank, 80-100 mm dia. Skutblare pienk of rooierig tot bruin, met yl tot digte silwer, syerige hare; binneste skutblare skerp gepunt, lepel- of tongvormig, so lank of langer as die enkelblomme, 50-100 mm lank, 6-10 mm breed. Blomtyd Februarie tot April.

Enkelblom: Blomdekblare 60-80 mm lank, buis 15 mm lank, punte het harde angels met kort, roomkleur, bruin, rooi of pers-swart hare. Styl ingekrom, 50-65 mm lank, onder donsig.

Blare: Lynvormig-lansetvormig tot eiervormig, 80-170 mm lank, 15-50 mm breed, haarloos of met wollerige tot syerige hare, punt gerond tot skerp; byna steelloos.

Verspreiding: Barberton by Nelshoogte. 1300 m.

Bewaringstatus: Uiters gelokaliseerd. Bedreig deur uitsterwing.


Witsuikerbosse

Protea subvestita - Lipblomsuikerbos - Lipped Sugarbush

Sinonieme: Protea lacticolor, P. orientalis; Lipflower Sugarbush, Waterlily Sugarbush; iSeqalaba-se-sesweu (SS), isiQane (X), isiQalaba (Z).

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "half bedek"; die blaarhare val af met ouderdom. Die volksname verwys na die skutblare wat afkrul aan die punte.

Kenmerke: Die enigste wit suikerbos (met klein langwerpige blomhoof en met skutblare rondom) in die somerreënvalstreek. Skutblare krul om aan die punte.

Groeivorm: 'n Groot, regop struik, nie vuurbestand, 2-5 m hoog, met 'n enkele stam. Takke met digte, grys hare wat later afval.

Blomhoof: Langwerpig, 55-70 mm lank, 30-40 mm dia., enkelblomme langer as skutblare. Skutblare karmynrooi of pienk of roomkleurig-wit, met syerige hare of haarloos, rand met lang, wit, syerige hare; buitenste skutblare skerp gepunt, eiervormig; heel binnestes se punte buig uit en af. Blomtyd Desember tot Junie, meestal Januarie tot Maart.

Enkelblom: Blomdekblare 50-60 mm lank, buis 8-10 mm lank, punte met wit, golwend-syerige hare, met slank basis wat in die volwasse blomhoof in opkrul: netjies! Styl uitgebuig, 55-60 mm lank, reguit, pienk.

Blare: Ellipties tot lansetvormig, steel afgespits, 50-100 mm lank, 15-35 mm breed, wollerig tot dig wolharig, in laagliggende gebiede verdwyn die hare later.

Verspreiding: Oos-Transvaal, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Lesotho en platorand van Wakkerstroom tot Somerset-Oos. 1200-2300 m.


Die Boekenhout: Faurea

Die genus Faurea word gekenmerk deur blomhoofde wat ritse ('n stingel met gewoonlik steellose enkelblomme) vorm. Alle spesies in Afrika is groot struike of bome en kom savannas en woude voor. Die blare is lansetvormig, en wissel in grootte tussen spesies. Alle blomdekdele is aan die basis in 'n buis saamgesmelt maar een is vry aan die punt. Die vrugbeginsel is bedek met lank syerige hare. Die vrugte is harig met permanente style.


Faurea galpinii - Bosboekenhout - Forest Beechwood

Sinonieme: Rooiboekenhout, Bush Beechwood; Monengenenge (NS).

Betekenis van name: Spesienaam verwys na EE Galpin (1858-1941), die prins van plantversamelaars. Die volksname verwys na die habitat.

Kenmerke: Regop blomhoof, enkelblomme met stele en fluweelagtige hare.

Groeivorm: 'n Groot struik tot 10 m hoog. Jong stamme rooierig.

Blomhoof: Regop, 80-100 mm lank, groenerig wit, bedek met fyn verweelagtige hare. Blomtyd Oktober tot Januarie.

Enkelblom: Gesteeld! Vrugte met lank, grouwit hare.

Blare: Lansetvormig, tot 100 mm lank, 25 mm breed, gaafrandig; blaarsteel 10 mm lank, rooierig.

Verspreiding: Platorand van Noord- en Oos-Transvaal en Swaziland.


Faurea macnaughtonii - Terblans - Terblanz Beechwood

Sinonieme: Faurea natalensis; Egossaboekenhout, Rooiboekenhout; Egossa Beechwood; iSafo (X), isiSefo (Z).

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na CB MacNaughton, bosbouer, en die volksnaam na 'n boswerker wat die hout bemark het.

Kenmerke: 'n Woudboom met blomhoof korter as 200 mm en blare met 10 mm stele.

Groeivorm: 'n Boom tot 25 m hoog. Bas grys.

Blomhoof: Hangend, tot 160 mm lank, 30 mm dia., wit of bleek pienk; soet geur. Blomtyd Desember tot Februarie.

Enkelblom: Haarloos. Vrugte met lang, wit-geel hare.

Blare: Veranderlik, ellipties tot eiervormig, 25-30 mm breed, tot 120 mm lank; blaarsteel 10 mm lank.

Verspreiding: Ongewoon daarin dat dit voorkom in klein, geïsoleerde areas ver van mekaar in Oos-Transvaal, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap, Knysna tot George; noordwaarts tot Madagaskar.

Bewaringstatus: Skaars. Verspreiding moet ondersoek word.

Nota: Hout met soet geur en mooi donkerbruin grein.


Faurea rochetiana - Breëblaarboekenhout - Broad-leaf Beechwood

Sinonieme: Mogwapi (NS), Segwapi (SS), Mutsatsati (cS), Umdwadwa (N).

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na die "mooi" blomhoof. Die volksname verwys na die blaarvorm.

Kenmerke: Die blare se bo- en onderkante verskil baie. Die blare is breed, lank, en het kort dik stele. Die enigste spesie wat in die winter blom.

Groeivorm: 'n Klein blaarryke boompie, 4-7 m hoog.

Blomhoof: Hangend, 250-300 mm lank, 30-40 mm dia., roomkleur tot pienk. Blomtyd Maart tot September.

Enkelblom: Haarloos.

Blare: Langwerpig tot ellipties, 25-60 mm breed, groen bo, grys onder weens digte fluweelagtige hare, 70-170 mm lank, gaafrandig en golwend, word oranje en rooi in herfs (kan dan verwar word met Combretum fragrans); blaarstele kort en dik.

Verspreiding: Oos-Zimbabwe, Wes-Mozambiek, Noord- en Oos-Transvaal, Swaziland, Noord-KwaZulu-Natal.

Notas: Wortelekstrak word gebruik om diarree en oorkwale te behandel. In Suid-Afrika is die nuwe naam Faurea rochetiana subsp. speciosa (Welw.) nog nie amptelik aanvaar nie


Faurea saligna - Transvaalse Boekenhout - African Beechwood

Synonym: Bosveld-boekenhout, Geelboekenhout, Rooiboekenhout, Witboekenhout, Waboom; Beechwood, Bushveld Beechwood, Red Beechwood, Transvaal Beechwood; umdwadwa (N), Mofufu (Se), Mohlako, Mongena (NS),
Monyena (Se), mutsatsati (N), N'wanidzumba (T), Siqalaba, isiQalaba (Sw), mTango (V), isiSefo qq, umCalathole (Z).

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na die blare wat lyk soos dié van wilgers (Salix). Die volksname verwys na 'n deel van die lokaliteit.

Kenmerke: Relatief baie donker bas vir 'n boekenhout. Dit lyk baie soos 'n karee.

Groeivorm: 'n Boom, gewoonlik 7-10 m hoog, maar tot 20 m in KwaZulu-Natal. Bas donkergrys tot swart.

Blomhoof: Hangende ritse 20-30 mm dia., 120-150 mm lank, groen tot roomkleur-wit, heuninggeur. Blomtyd Augustus tot Februarie.

Enkelblom: Haarloos.

Blare: Effens sekelvormig, hangend, 65-125 mm lank, 13-20 mm breed, wasagtig, gaafrandig, groen in somer en rooi in herfs; blaarsteel 20 mm lank.

Verspreiding: Zimbabwe, Mozambique, Gauteng, Noord-Wes Provinsie, Oos- en Noord-Transvaal, Swaziland, KwaZulu-Natal. Suurveld.

Notas: Lyk soos die Karee (Rhus lancea), maar het nie drievoudige blare nie. Hout bleek-geel tot rooi, met 'n pragtige grein, Geweek in water gee dit 'n rooi kleurstof.


Speldekussings: Leucospermum

Speldekussings word gekenmerk deur prominente stuifmeelbieders wat soos spelde op die blombasis staan, onopvallende skutblare en wigvormige blare met tandkliere.

Al die spesies in die somerreënvalgebied is silindriese speldekussings (afdeling Crassicaudex), wat gekenmerk word deur die silindriese vorm van die blombasis. Almal is regop, veelstammige struike met 'n wortelstok en veranderlike wigvormige.


Leucospermum cuneiforme - Gewone Luisiesbos - Wart-stem Pincushion

Sinonieme: (te veel om op te noem)

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na die wigvormige blaar; die volksname na die snaakse vratte en wye verspreiding.

Kenmerke: Onmiskenbaar weens die vratte en knoppe op die laer dele van die stam.

Groeivorm: 'n Regop veelstammige struik vanuit 'n wortelstok.

Blomhoof: Eiervormig, 50-90 mm dia.; steel 15 mm.
Blom deur die jaar, meestal Augustus tot Februarie.

Enkelblom: Blomdekblare 25-40 mm lank. Styl 38-55 mm lank, geel, later oranje. Stuifmeelbieder keëlvormig met 'n skerp punt na breed keëlvormig.

Blare: Veranderlik in vorm maar gewoonlik wigvormig; 45-110 mm lank, 6-22 mm breed, met 3-10 puntkliere.

Verspreiding: Oos-Kaap by Qolora en weswaarts tot by die Riviersonderend-berge. 0-1200 m.

Nota: Die wydverspreidste Speldekussing.


Leucospermum saxosum - Spitsblaarspeldekussing - Escarpment Pincushion

Sinonieme: Chimanimani Pincushion, Gombate (ES).

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "tussen die rotse". Die volksname verwys na die habitat en lokaliteite.

Kenmerke: Die blomdekbuis, smal stuifmeelbieder en blare met lang stele is kenmerkend.

Groeivorm: 'n Veelstammige struik, tot 2 m hoog, met 'n wortelstok.

Blomhoof: Gewoonlik enkel, 40-60 mm dia., steel 10-15 mm.   Blomtyd Januarie tot Desember, meestal September tot Desember.

Enkelblom: Blomdekblare 30-35 mm lank, tregtervormige buis 6 mm lank, geel-oranje word rooi in volwasse stadium. Styl 45-55 mm lank, oranje word maar rooi in volwasse stadium. Stuifmeelbieder smal keëlvormig, skerp afgepunt vanaf styl.

Blare: Omgekeerd lansetvormig-wigvormig tot ellipties, steel smal tot gesteeld, met 3-6 tande, 55-115 mm lank, 6-25 mm breed.

Verspreiding: Noord- en Oos-Transvaalse Drakensberg van Tzaneen tot Pelgrimsrust (& Chimanimani-berge). 1300-2350 m.

Bewaringstatus: Skaars.


Leucospermum innovans - Pondolandspeldekussing - Pondoland Pincushion

Sinonieme: -

Betekenis van name: Die spesienaam beteken "nuwigheid", die volksnaam verwys na die vernaamste lokaliteit.

Kenmerke: Die blare is baie breed, met 7-10 tande. Stamme regop en baie slank.

Groeivorm: 'n Regop, veelstammige struik tot 1 m hoog, met slank (5 mm dia.) stammetjies.

Blomhoof: Bolvormig 80-90 mm dia.; steel 15 mm lank. Blomtyd Julie tot Desember, meestal September tot Oktober.

Enkelblom: Blomdekbuis verdik aan basis, maar smal aan die punt, 10-12 mm lank, geel. Styl 50 mm lank, baie slank, geel. Stuifmeelbieder smal keëlvormig, skerp gepunt.

Blare: Baie breed wigvormig tot eiervormig, met 'n duidelike steel, 70-100 mm lank, 30-50 mm breed, met 5-10 puntkliere.

Verspreiding: Subtropiese kusgordel van Oos-Kaap en KwaZulu-Natal tussen Lusikisiki en Port Shepstone. 0-250 m. In Pondolandse Suurveld.

Bewaringstatus: Bedreig deur uitsterwing.


Leucospermum gerrardii - Wortelstokspeldekussing - Soapstone Pincushion

Sinonieme: Soboliferous Pincushion

Betekenis van name: Die spesienaam verwys na WT Gerrard wat dit vir die eerste keer versamel het; die volksname na die groeivorm (soboliferous = rankvormend) en die habitat.

Kenmerke: Herkenbaar aan ondergrondse stamme, en smal, effens-gekromde blare met prominente are.

Groeivorm: 'n Dwergstruik met ondergrondse stamme, asook 'n wortelstok, en met regop stamme selde meer as 0,4 m hoog, lyk soos 'n kussing.

Blomhoof: Eiervormig, 40-70 mm dia.; steel 10-20 mm lank.
Blomtyd deur die jaar, meestal September tot November.

Enkelblom: Blomdekblare 30-35 mm lank, geel maar oranje tot skarlakenrooi in volwasse stadium. Styl 50 mm lank, geel. Stuifmeelbieder smal keëlvormig, skerp gepunt.

Blare: Lynvormig tot omgekeerd-lansetvormig met opgehewe are, 50-90 mm lank, 8-20 mm breed, met 1-4 puntkliere.

Verspreiding: Barberton en Carolina in die Oos-Transvaal, Swazilandse platorand en sentrale laagland van KwaZulu-Natal by Mapumulo, Ndwedwe en New Hanover. 1300-2000 m.

Nota: Laaggroeiende vorms het breër blare (15-20 mm) as dié op platorand (8-16 mm).


Tolbosse: Leucadendron

Tolbosse kom voor as vroulike en (tingeriger) manlike plante. Die blomhoofde is soms omring deur groter en anderskleurige omwindselblare. Veral in die vroulike blomhoofde is die skutblare verdik en houtagtig om skubbe te vorm wat die vrugbeginsels in 'n keël, soos 'n dennebol, omsluit.

Twee spesies tolbosse kom voor in die somerreënvalstreek. Hulle behoort tot verskillende groepe in die genus. L. spissifolium het baie, kort, regop stamme, hergroei vanuit 'n wortelstok en stoor sy plat vrugte in vuurvaste keëls. L. pondoense is regop, met 'n enkele stam en driehoekige vrugte wat saam met die keël afval.


Leucadendron spissifolium subsp. natalensis - Nataltolbos - Natal Spear-leaf Conebush

Betekenis van name: Die name verwys na die spiesvormige blaar; van Natal.

Kenmerke: Herkenbaar aan die vorms van die blare en skutblare van die keël.

Groeivorm: 'n Veelstammige struik tot 0,75 m hoog vanuit 'n wortelstok.

Blomhoof: Manlike hoof tot 18 mm dia., bolvormig. Skutblare (20) lansetvormig, bruin, rand harig, skyfqq haarloos, ingekrom. Vroulike hoof eiervormig, 16-20 mm lank, 13-15 mm dia., suurlemoengeur.
Blomtyd September tot November.

Keëls: 36 mm lank, 26 mm dia., harig in middel, blootgesteldes rooi; skutblare gerond met 'n effense keep, dooie enkelblomme sigbaar. Vrugte blywend.

Blare: Omgekeerd-lansetvormig, skerp gepunt, haarloos, onder gedraai, 46 mm lank, 8 mm breed. Omwindselblare dig gepak, ivoorwit tot bleekgroen, breër en opvallend.

Verspreiding: Port St Johns tot Port Shepstone. 30-500 m.


Leucadendron spissifolium subsp. oribinum - Oribitolbos - Oribi Spear-leaf Conebush

Betekenis van name: Die name verwys na die spiesvormige blaar; van Oribi.

Kenmerke: Die smal, sekelvormige dig gepakte blare en manlike hoofde sonder omwindselblare onderskei dit van die subspesie natalensis.

Groeivorm: 'n Veelstammige struik tot 1,5 m hoog vanuit 'n wortelstok.

Blomhoof: Manlike hoof sonder omwindselblare, tot 18 mm dia., bolvormig, lemoengeur. Skutblare (20) lansetvormig, bruin, rand harig, skyfqq haarloos, ingekrom. Vroulike hoof 16-20 mm lank, 13-15 mm dia., eiervormig, lemoengeur.
Blomtyd Oktober en November

Keëls: 36 mm lank, 26 mm dia., harig in middel, blootgesteldes rooi; skutblare gerond met effense keep, dooie enkelblomme sigbaar. Vrugte blywend.

Blare: Sekelvormig, met 'n bleek, skerp punt, haarloos, onder gedraai, tot 31 mm lank, vroulikes 3 mm breed, skitterend groen.

Verspreiding: Oribikloof by Port Shepstone en by Port Edward. 0-350 m.

Bewaringstatus: Onseker. Verspreiding moet ondersoek word.


Leucadendron pondoense - Pondolandtolbos - Pondoland Streambush

Betekenis van name: Al die name verwys na die lokaliteit van die spesie.

Kenmerke: Die driehoekige vrug, habitat langs strome, harige blare en regop groeivorm is kenmerkend.

Groeivorm: 'n Struikagtige boom tot 6 m hoog, met 'n enkele hoofstam.

Blomhoof: Manlike hoof met digte silwer hare, bolvormig, 10 mm dia. Skutblare (8) onopvallend, lynvormig, met sagte hare buite. Vroulike hoof 12-15 mm lank, 8-9 mm dia., ellipties, geurloos.
Blomtyd September tot Desember.

Enkelblom: Blomdekblare 3-3,5 mm lank, vrugbeginsel met digte hare.

Keëls: 25-35 mm lank, 15-20 mm dia., haarloos aan punt, onder digte hare. Vrugte val ná 12 maande, driehoekig in deursnee, met enkele hare en skerp rand.

Blare: Effens sekelvormig, 35-60 mm lank, 2,5-4 mm breed in manlikes, 50-70 mm lank, 3-4 mm breed in vroulikes, leeragtig, met sagte, silweragtige hare, haarloos in volwasse stadium, skerp rooi punt. Spits af tot 'n steel, 2 mm lank. Omwindselblare afwesig in albei geslagte.

Verspreiding: Pondoland, Port St Johns tot Port Edward, langs strome.

Bewaringstatus: Skaars.


Die Protea Atlas Projek beoog om die samewerking van amateurs in die plantkunde aan te moedig. Die doel is om die amateur se bewustheid en genieting van die veld te stimuleer en sodoende 'n bewaringsetiek te vestig.

Hierdie projek steun op vrywillige karteerders wat hulle eie waarnemings opteken op 'n meldvorm wat dan aan ons gestuur word. Met behulp van 'n Geografiese Inligtingstelsel word die inligting geïntegreer met bodembenutting, grense van natuurgebiede en herbariumrekords om sodoende aan beplanners en natuurbewaarders inligting te verskaf vir die sinvolle bewaring en bestuur van ons natuurlike hulpbronne. Karteerders word gereeld op hoogte gehou van ontdekkings en vordering deur Nuusbriewe en Voorlopige Verspreidingskaarte.

Ons weet nog verbasend min van ons flora. Die onlangse ontdekking van drie nuwe protea spesies deur ons karteerders is 'n bewys hiervan. Tree met ons in verbinding vir meer inligting en om 'n veldkarteringstel te bestel. Skryf aan:


EKKO Organisasie van Ekologiese Klubs vir Kinders

EKKO wat in 1985 gestig is, is 'n steunorganisasie vir 'n netwerk van ekologiese kinderklubs. EKKO se hoofteikengroep is minderbevoorregte plattelandse laerskoolkinders. Daar is byna 60 sulke klubs in die Wes- Oos- en Noord-Kaap. EKKO reël ook omgewingskursusse vir skole, asook kursusse vir leerling-onderwysers. Onlangs is 'n unieke omgewingsopvoedings-kursus vir straatkinders gehou.

Omdat die meeste kinders in EKKO se teikengroep in uiters armoedige omstandighede lewe, moet EKKO gedurig borge vir sy werksaamhede soek. Ondersteuning van Shell SA en die Mazda Natuurlewefonds het EKKO in staat gestel om in samewerking met die Nasionale Botaniese Instituut

hulpmiddels vir omgewingsopvoeding op te stel en te druk. Alle winste uit hierdie projek sal aangewend word in EKKO se omgewingsprojekte vir minderbevoorregte kinders.


Terug Protea Inligting in Afrikaans